Skip to content

Die Ballerina En Die Brandweerman – Hele Verhaal

March 18, 2014

 Dik smeulende rook hang laag oor die middestad vir blokke aaneen. Meeste mense verder weg het die twee ontploffings gehoor, maar die wat nader was, sal nou nooit lewe om die storie te kan vertel nie.

Die storie van die dag toe die Staatsteater in Kerkstraat, tot ‘n hopie pyn verminder is. Ja, die eens pragtige gebou, is nou niks meer as ‘n hoop afval van staal en sement nie, die geraamte van eeue se Kuns en Kultuur daarmee heen. 

‘n Radius van blokke en blokke vêr om die teater is afgesper, wat die stad kompleet soos ‘n spookdorp laat lyk. Êrens in die rook kan mens ‘n verlate boemelaar uitmaak wat in asblikke loop en grou, in die hoop om iets te ete daar te kry, maar dis maar dit, verder niks. Net stilte, rook en die reuk van as en roet in die lug. Ambulaans, brandweer en polisie serenes is in vêrte hoorbaar, maar hulle gaan nog ‘n rukkie vat om tot hier te kom. Die skade is miljoene rande werd, en almal in Pretoria weet, nà vandag, sal dinge nooit weer dieselfde wees nie…

 

***

7 Maart 2013

Pretoria

 

Jy kan jou opgewondenheid skaars beteul. Vandag is die dag! Die dag waarvoor jy al vyftien jaar wag…en vyftien jaar voor werk! Nie net kry jy die geleentheid om die Prima Ballerina in jou gunsteling ballet opvoering te wees nie, maar ook om saam met die Russiese Ballet Kompanie op te tree! Awesome verby, jy’s ‘n “jitterbug” op adrenalien en sien so baie uit hierna… 

 

Almal van jou balletskool wat vandag saam met die RBK optree, is nou saam in die ontklee kamers. Haastig trek jy jou ballet-sykouse en tutu aan en dan die pienk pointe-skoene. Soos meeste van die ander ballerinas, is jou hakskene en tone rooi, vol blase en neraf na al die oefening die afgelope twee weke, maar niemand steur hulle vandag daaraan nie, want vanmiddag is die openings-middag van die Russiese Ballet Kompanie se “Swan Lake”. Almal wat jy kon nooi, gaan daar wees…

 

“Meisies!” skree Nathaniel en ‘n paar girls staan giggelend nader. Shame, dit sal hùlle eerste blootstelling ook wees en is duidelik senuweeagtig. Marius, wat die rol van Prins Siegfried vertolk, sleep uiteindelik sy voete daar in, laat soos gewoonlik. ‘n Ongelooflike passievolle danser, maar flippen lui. Hy en Nat loer stilletjies vir mekaar en Nat bloos soos die rooiste tamatie in die kissie. Natuurlik weet almal van hulle love-affair, al dink hulle julle is almal dom.

Versigtig maak jy die laaste lint om jou been vas en staan dan ook nader.

 

“Ek wil vir ieder en elk vandag dankie sê vir al julle harde werk en oefening die afelope jaar, maar spesifiek die afgelope twee weke. Ek weet julle gaan my vandag soos ‘n trotse pappa laat voel. Julle girls rock!” 

Nathaniel was regtig die oulikste moffie en die beste ballet-afrigter en choreograaf in Suid Afrika. Onder sý hand het jy en ‘n paar ander girls geblom in pragtige, fyn en professionele dansertjies.

 

“Is jy reg my skat?” vra Nat jou eenkant terwyl jy die finale touches aan jou make-up doen.

“So gereed soos ‘n beer in kraam Nat”, antwoord jy en gaan bewerig aan met jou make-up. Nat smile, gee jou ‘n speelse klap op die gat en stap tipies moffie-style daar weg. “See you afterwards darlings! I’ll have the champagne ready!”

 

Leon, die verhoogbestuurder, kom kondig aan dat julle vyf minute oor het voordat julle moet nader staan verhoog se kant toe. Jy sal saam hulle op stap, maar jou “act” begin eers bietjie later.

Al tien van julle staan gou in ‘n kring en Janine bid , soos altyd voor elke optrede, vir julle talent. Sê dankie vir julle veiligheid en vra Die Hemelse Vader se hand van beskerming oor julle tydens die optrede en daarna.

Dan is dit tyd. Jou hart klop onbeheers vinnig en dit voel of jou kop in honderde verskillende rigtings spin. Dis tyd!

Marius en die eerste act stap verby en dan agtervolg jy hulle. By die verhoogdeur druk julle almal die punte van julle pointe-slippertjies in dans-meel en staan gereed vir wanneer julle moet opgaan.

George, die dirigent, swaai sy arms en die simfonie-orkes begin Tchaikovsky se meesterlike musiekstuk speel.

 

Jou rol as Odette, die Swan Prinses kom nader en jy doen gou ‘n laaste paar opwarmings-oefeninge voor jy moet optrippel.

Maar dan word alles skielik swart…verwarring en vrees klou om jou hart want jy kan nie beweeg nie…jou oë wil nie oop nie. Jy probeer praat, maar niks kom uit nie. “Help!” roep jy tevergeefs…wat gaan aan? Waar is almal? Hoekom is jou lyf so pap en hoekom is dit so donker? ‘n Warm steekpyn skiet deur jou rug en by jou linkerbeen af. Eina! Eina! Dit voel soos ‘n nagmerrie en jy huil, maar die trane loop nie. 

Alles is stil. Alles is swart. Alles is donker…En dan raak jy weg…

Shaun stop sy bike voor die brandweerstasie, gryp sy sak en hol in. Laat, na ‘n lang af-naweek by Sun City, maar uitgerus en reg vir die week.

“Yes kwagga, wat sê jy?” groet hy vir Mike, sy beste vriend en mede vuurvegter, by die storte.

Mike was ‘n yslike man. Gedoop Gentle Giant omdat hy so sterk en gespierd was, maar met die sagste hartjie van al die brandweermanne.

Shaun en Mike het op teenoorgestelde skofte gewerk, Shaun dagdiens en Mike nagdiens, maar dit het hulle nie gekeer om elke moontlike af tydjie saam by die bar te sit en kuier nie. Mike is nou twee jaar getroud en jonger as Shaun, wat nog enkellopend was.

 

“So Shaun, wanneer vra jy Mariska om te trou? Julle is nou al twee jaar aan en af saam. Wat gaan aan? Dis tyd dat jy settle, en ophou om die arme girl so aan ‘n lyntjie te hou. Jy raak nie jonger nie. Wat, 40?” spot Mike vir Shaun.

“Vyf-en-dertig jou aap. En jy weet hoe ek voel oor trou Mike. Wat help dit? Ons werk is te gevaarlik. Ek wil nie verlief raak, trou en kinders kry met die wete dat ek hulle dalk eendag sal moet alleen agterlaat nie. Dan vry ek liewers in die bondel. No strings attached. En baie lekkerder,” knik hy vir Mike oog.

Mike klik net sy tong en droog verder sy hare af.

Hy was skaars klaar aangetrek toe hulle die noodklok en afkondiging hoor: Die Staatsteater is gebom. Alle moontlike noodpersonneel moet so gou as moontlik daarheen haas om te gaan help.

Shaun en Mike kyk mekaar verslae aan…die STAATSTEATER?! Wat de hel? Dit kan nie wees nie! Hulle kry dan ewe skielik lewe soos die adrenalien begin pomp en hardloop saam lockers toe om hulle gear te gaan kry, jaag wa toe en bondel saam met die res van die span in. Dìt alles binne vyf-minute.

Kabelo, die drywer, skakel die enjin aan, so ook die serene en jaag dan by die jaard uit staatsteater se kan toe.

***

“Meisie, meisie! Hallo! Kan jy my hoor?” 

Jou lyf is lam, pap en seer. Die gevoel in jou bene is heeltmal weg en jy kan nie eers jou tone voel nie. Met ‘n kopseer van hel probeer jy jou oë oopmaak, maar jou ooglede plak swaar teen mekaar vas. Alles is so ongelooflik seer en styf en jy is verward, verstaan nie waar jy is of hoe jy daar gekom het nie.

“Sy kom by!” hoor jy iemand skree.

“Mej, mej kan jy my hoor? Ek is Shaun van Staden, Sentraal brandweer. Jy was in ‘n ernstige bomontploffing betrokke. Wat is jou naam?”

“Waar is ek?” vra jy, meteens bewus van die sterk, warm steekpyn in jou rug. “Eina!”

Jy probeer regop sit maar twee sterk hande keer jou. “Wag mej, ek’t hulp ontbied, lê net stil, hulle is oppad.” 

Jy sak moedeloos terug op die harde sement neer. Sovêr kan jy net jou arms beweeg, en voel nou aan jou kop. Die bolla van vroëer is al lankal uit preporsie uit. Orals in jou deurmekaar hare is harde stukke klonte. Semi-droë bloed, maar dit het jy nie toe geweet nie.

“Hoekom kan ek nie my bene beweeg nie?” vra jy hees.

“Moenie nou oor jou bene bekommer nie mej. Wat is jou naam?”

“Michelle” antwoord jy terug en probeer weer jou oë oopmaak. Die skerp lig van Shaun se helmut-liggie skyn in jou oë en jy skadu hulle met jou hand. “Waar is ek?” vra jy weer, meer benoud.

Shaun sug, sak op sy hurke langs jou neer, voel die pols op jou gewrig, en loer dan by jou oë in met ‘n sterker flitsliggie. 

“Jy’s in, wat ons vermoed, die kelder van die staatsteater se verhoog Michelle. Bly jy nou net kalm, jy’t baie bloed verloor en kan in skok in gaan as jy nou te veel worry en beweeg. 

 

Daar is ‘n gekap en gepraat van mans stemme vêr agter Shaun en jy draai jou kop stadig in daardie rigting. Nòg skerp ligte en beweging. Dit laat jou dink aan die aand wat julle die disco toneel moes opvoer. 

Opvoer? Stadig begin jou brein bietjie helderder word en verstaan jy nou hoekom Shaun praat van die Staatsteater.

Die pyn in jou rug raak erger, dis ondraagbaar en dit voel of jy kan doodgaan so seer is dit . Jy’s dors en jou lippe voel skurf en taai, gekraak en seer, maar jy roer nie, nes Shaun beveel het. 

Dan sien jy die gesig van jou redder, die mooiste paar gras-groen oë wat in jou bloues inkyk. Hy smile terwyl hy jou wang liggies in sy groot hand vashou. Dan word alles weer swart en stil. En weer is jy weg…

 

“Ag nee man damnit!” aanskou Shaun, hande in sy hare, vir Michelle, wat sopas weer flou geword het. Sy helmet lê al lankal eenkant toe gesmyt, teen sy beterwete. 

Shaun begin nou bekommerd raak, want Michelle lê in, wat vir hom lyk, na milliliters en milliliters bloed, veral by haar kop en rug. Hy’t probeer kyk om te sien waar die wonde is om kompressie op te sit, maar dis te moeilik en selfs hý weet dis op dìe stadium baie gevaarlik om haar sommer net so te beweeg en skuif. Michelle se bo-lyf het redelik min oorgekom, maar haar bene lê onder ‘n groot blok sement, wat dinge nòg vererger en moeilik maak. Dus hou sy aan aktief bloei en Shaun sit hulpeloos op sy hurke langs haar en kyk hoe sy wegkwyn. 

Ongelukkig moes hy sy noodhulp rugsak vroëer agterlaat het, want die spasie was net groot genoeg vir hòm om deur te kom toe alles inmekaar begin tuimel het. Hy’t nie eers ‘n druppel water nou by hom nie.

 

“Mike! Julle moet nou deksels gou maak man, flippit!! Sy’s weer uit!” skree Shaun benoud vir Mike en sy span wat deur ‘n hoë hoop sement en staal probeer deurbreek om by hulle uit te kom. Shaun kon vroëer deurkom, maar toe stort alles ineen en is die gat nou heeltemal toe. Al wat nou sigbaar is, is ‘n paar flitse van Mike-hulle se ligte en die gekap soos hul probeer deurbreek…

Arme Mike moes eintlik al lankal by die huis gewees het na sy lang nagskof, maar elke vry hand is Kerkstraat toe ontbied. Hy dryf nou maar op pure adrenalien.

Uiteindelik, na nog twintig-minute se gesukkel, gekap en geskuif, stoot Mike-hulle deur, maar was nie bewus van die lang stuk staal wat die hele dak nog regop gehou het nie. Met die laaste stoot het die paal stadig begin meëgee, en het gelyk of dit binne sekondes gaan omtuimel. Sou dìt gebeur, was hulle almal dood.

Mike besef dit en skree vir die ander mans, wat intussen begin rondkyk het vir nog slagoffers, om te kom help oplig aan die swaar blok sement wat op die nogsteeds bewustelose Michelle gelê het.

“Right boys, op drie! Een, twee, drie!” skree hy en almal lig soos een man die blok op, maar dis ‘n aaklige toneel wat hulle in die oë staar. Michelle se hele onderlyf is bloedrooi geweek, papnat van die bloed. Dis ‘n wonder dat sy nog asemhaal.

Mike hulle gooi die blok eenkant toe en sien hoe die dak aan die einde van die rommelhoop hard inmekaar begin val…

“Oraait Mike,” sê Shaun,”tyd vir dinge volgens die boek doen, is daar nou nie meer nie. Sy lèwe nog en sò gaan ons haar hier uitkry, hoor jy my? Ons het nie tyd om verder te hanna-hanna nie.”

Twee ander brandweermanne het elk al ‘n lewelose slagoffer oor die skouer en begin deur die gat te klim. Hulle kan nou niks verder doen as om te probeer ontsnap nie.

Mike help vir Shaun om Michelle op te tel en wou haar vat, maar Shaun keer hom. “Los Mike, ek sal self. Daar lê nog iemand, vat jy hom” sê hy met ‘n stem wat wil breek en voel hoe die water in sy oë begin opdam. Sy hart klop tien keer vinniger as normaalweg en hy’s te bang om af te kyk na Michelle toe, te bang hy verloor haar…

Bitter lanklaas het hy sò oor ‘n slagoffer gevoel. Nee, nog noòit het hy so oor ‘n slagoffer gevoel nie. Nie te praat van ‘n meisie nie. Maar dis vandat hy in daardie oseaan-helder blou oë van haar gekyk het dat sy hart sumier gesmelt het. Dìt was die omkeerpunt in Shaun se yskoue hart…sogenaamde self-geproklameerde gigolo.

Natuurlik was sy baie jonk, hy skat haar so een-en-twintig, maar soos hy haar stadig deur die gat probeer dra het, het hy homself belowe dat terwyl hý in beheer was, niks met haar sou gebeur nie. Hy’t kompleet soos haar beskermheer gevoel. Selfs toe die paramedic haar by hom wou vat, het hy geweier.

“Waar is jou ambulaans? Ek sal haar self soentoe dra.”

“Agtervolg my, die voertuie staan daar parkeer” antwoord die medic en hardloop solank vooruit om die ambulaans se draagbaar reg te kry. 

Mike loop agterna met ‘n lewelose slagoffer, ‘n kind, in sy sterk arms en nie een van die twee uiter ‘n woord nie. Hulle stap net stadig en in stilte aan ambulaans toe. Michelle se bolla het intussen losgekom wat haar lang, blonde, maar bloed-bevlekte hare tot amper op die grond laat val het en vir Shaun het hulle soos ‘n goue waterval gelyk. Sy brandweer-pak was deurtrek met die bloed, so ook sy handeskoene. Michelle se kosbare bloed…

Met die hulp van twee ambulans manne lê Shaun haar huiwerig, tog saggies daar neer en word toe eenkat toe geskuif sodat hulle by haar kon uitkom, maar hy kry dit darm reg om haar klein, fyn handjie in sy massiewe een te bly vashou.

Almal weet outomaties wat om te doen. Een sit ‘n drip op. Ander een spuit morfien en vir ‘n oomblik kom Michelle duiselig by en knyp Shaun se hand styf in hare vas. Dan word hy gedwing om haar te los toe hulle haar in die ambulaans wil instoot. “Bly by my,” hoor hy haar sagte stemmetjie en dit breek Shaun om haar net so te los, maar hy moet. Dan slaan die deure toe en jaag hulle al skreeuende-serene daar weg.

 

Soos hulle daar wegry, voel dit vir Shaun of sy siel uitmekaar geruk word. Verpletterd en vertrap. Dis net genade en krag van Bo wat keer dat hy nie agterna hardloop nie…Vir hom is dit ‘n vreemde gevoel en hy weet nie wat om daarvan te maak nie. Hulpeloos en in twee geskeur, staan hy die ambulaans en agterna kyk soos dit wegjaag, totdat dit om die hoek verdwyn. Dan trek Mike hom aan die skouer en sê saggies: “Kom pêl, daar’s nou niks wat jy verder vir haar kan doen nie. Ander het jou meer nodig. Kom.”

Verdwaas draai hy om en gaan help verder na nog slagoffers soek.

***

In kontras met die rook, rommel en roet van die Staatsteater, word jy ‘n maand daarna wakker in ‘n rustige, sonnige hospitaal-kamertjie.

“Hallo,” groet die borrelende stem van die fisioterapeut jou. “Ek is Fancy, djou se fisio. Noem my sommer die Fêncy Fisio. Wêlkom terug!”

Fancy is omtrent kort, dink jy en glimlag skeef vir haar. Maar die oulikste kleurlingetjie, Capey stem en al.

“Hallo. Waar is ek?” fluister jy vir haar en wonder of sy jou kon hoor. Duidelik was watokal sy besig was om op haar walkman te luister, baie meer interessant.

Jou oë sak weg van haar gesig af en volg haar arms. Fancy was besig om passiewe oefeninge op jou bene te doen, wat jy eweskielik agterkom jy glad nie kon voel nie. Jy probeer jou tone beweeg, maar niks gebeur nie.

“Wat de he’ll gaan met my bene aan?” vra jy verskrik en begin huil.

Fancy kyk op en sien die strome trane by jou wange afloop, haal die oorfone uit haar ore uit en gooi die walkman eenkant toe op die stoel neer.

“Djy moet rustig sussie. Die dokter sal nog met djou kom prat. Al wat ek djou kan sê is, is dat ek djou nou al vier weke lank elke dag sien en oefen.”

“Nee!” skree jy, “Ek wil NOU weet wat aangaan! Wat’s fout met my bene?”

 

Fancy sug, trek die stoel nader en kom sit langs jou.

“Girla, die Djirre moes daai dag an djou kant gewies het. Ek weet nie veel nie…” rafel haar stem uit.

“Vertel my,asb?” prewel jy terug.

“Nou goed dan…wat ek weet en gehoor het, is dat djy in die basement van die Staatsteater gevind is. Dìe is mos gebom. Nasty terrorists. Maar anyway. Een of ander dapper brandweerman en sy span het djou net betyds daar uitgekry. Niemand weet wie hy is nie, want daar was so baie daai dag. Toe ongevalle jou hier ontvang het, was jy so te sê op Dood se doorstep. Hulle het vyftien-ure aan djou ge-operate. Eers aan djou kop, en toe djou rug en bene.”

Met die noem van kop gaan jou hand instinktief na jou hare toe.

“Waar’s al my hare?”

“Hulle moes als afsny vir daai brein operation my meisie. Nou kan djy dit lekker spiky dra,” knik sy oog.

 

Fancy gaan aan om te vertel hoe lank hulle jou in ‘n kunsmatige koma gehou het omdat jy swelling op jou brein gehad het, ‘n paar noue-ontkominge, en van die span top dokters, susters en die klein, maar pragtige en besige privaat hospitaaltjie in Pretoria.

 

“Die ding is my meisie, jy’t wat ons in die spinaal eenheid noem ‘n onvolledige letsel. Die senuwee in die middel van jou rug het erg seergekry, maar daar was net drukking op, hy’s nie heeltemal af nie. So, met baie oefening, inspanning en moeite van ons albei se kante af, sal djy dalk weer kan loop. Ons weet net nie hoe lank dit gaan vat nie, dit kan ek djou nie sê nie.”

Fancy bly ‘n rukkie stil om kans te gee vir die nuus om in te sink.

“Wat van die ander?” wil jy half bang weet.

“Ek wiet nie my meisie, djy was die enigste een wat hulle na òns hospitaal toe gebring het, die groter hospitale was klaar vol. Maar volgens gerugte, is baie dood.”

Met dit staan sy op en sê weer in daai borrel-Capey-stemmetjie, “Kom girla, ek gaan djou wys watse oefeninge djy self kan doen. Ek is al die pad saam djou, moenie afraid wees nie.” Sy druk jou hand en dit bring weer trane na hoë.

***

6 Maart 2014

Pretoria

 

Met Shaun gaan dit baie sleg. Vir maande lank het Michelle se kristal-blou oë by hom bly spook. Hy’t op menigte “one-night stand” dates gegaan, in die hoop om van Michelle te vergeet. Maar tevergeefs. Elke keer as hy ‘n meisie se hand sou vat, het hy Michelle se sagte handjie in syne gevoel. Wanneer hy ‘n meisie wou soen, was dit Michelle se gekraakte bloedrooi lippies wat hy onder syne gevoel het. So erg was dit, dat selfs Mike kon agterkom dat Shaun ernstige hulp nodig gehad het. Dìt nadat hy een oggend in ‘n woede-bui, ‘n gat deur die werk se badkamer deur geslaan het. En dit oor iets kleins.

“Nee man my maat, wat gaan aan? Jy’s besig om al hoe meer agteruit te gaan. Kyk hoe lyk jy! Kom half-dronk werk toe, vuil klere, vloek, skêl en gaan tekere. Wat gaan aan? Jy beter jouself regruk, hulle gaan jou nog afdank.”

“Ag gaan preek vir jou ma man! F-of en los my uit!” Shaun kan skaars regop staan en tipies een-voet-voor-twee-voete-agtertoe slinger hy toilette toe. Maar Mike het nou genoeg gehad, gryp Shaun van agteraf aan sy blou uniform-trui en gee hom een harde pot met sy baksteen-vuis.

Shaun lê so paar sekondes lights-out, en toe hy weer bykom, sit Mike op sy hurke langs hom.

“Dit was die laaste pêl, nou gaan jy regkom, hoor jy my?”

Mike help Shaun op en vat hom kantoor toe om skoongemaak te word. Die ander brandweermanne sê niks, almal weet wat aangaan en bly maar liefs daar uit. 

Terwyl Mike Shaun se blou-geslaande lip behandel en skoon kry, maak Shaun sy hart oop. Oor Michelle.

“Shaun,” sê Mike agterna, “dis tyd dat jy afskeid neem. Asseblief my vriend, dis nie jou lewe en beroep die moeite werd om so aan te gaan nie. Vat ‘n paar dae af en gaan dink mooi. Ek’t klaar met Kaptein gepraat. Ons sal reg wees vir die volgende maand lank.”

Shaun weet nie wat om te sê nie. Hy’t nie besef dinge was so erg nie. Maar as hy nou so daaraan dink, kon hy agterkom hoe erg dinge geraak het hoe nader hy aan die sewende Maart gekom het. En nou, ‘n dag voor die eerste erdenking van daardie tragiese dag by die Staatsteater, was dit die laagste punt vir hom.

“Jy’s reg pêl. Dankie,” is al wat hy uit kry. Shaun kyk verslae op en hy en Mike omhels mekaar broederlik.

 

Die volgende dag word Shaun met ‘n kloppende kopseer wakker. Hy eet sy normale ontbyt van spek en eiers, drink twee Panado’s en gaan sit buite op die stoep die vêrte en instaar terwyl hy rook. Minky, sy poodle, kom krap liggies aan sy been en hy vryf haar koppie halfhartig.

“Dis tyd Minky, Mike is reg. Ek moet gaan afskeid neem.

Hy rook klaar, klim op sy motorfiets, en jaag Kerkstraat toe.

Die stadsraad het toe intussen die blok mooi skoongemaak en ‘n goue plaatjie op ‘n klein pilaartjie opgesit ter nagedagtenis van die slagoffers van 7 Maart 2013. Dit sou nou die eerste keer wees wat Shaun daarheen gaan, en wou eers omdraai, maar onthou toe Mike se woorde die vorige dag. Afskeid.

 

Shaun stop sy motorfiets so paar meter van die nou plat en skoon sement blad af, en haal sy helmet af. Soos presies ‘n jaar gelede begin sy hart onstuimig klop. 

Eers merk hy nie die persoon in die rolstoel op wat agter die pilaar sit nie, maar toe hy nader stap, sien hy dis ‘n skraal meisie met kort blonde bob-haartjies. Sy sit net en staar voor haar, hande in haar skoot.

Hy stap stadig nader en gaan staan so entjie van haar af weg, maar kon nog nie in haar gesig afkyk nie. So staan hy ook net daar na die pilaar-en-plaatjie en kyk, tot die meisie sê: “Ek’t albei my ouers en sussie verloor. Dit sou die grootste dag van my lewe gewees het. Maar nou’t ek alles wat vir my belangrik was, in ‘n oogwink verloor.”

Nogsteeds kyk Shaun nie na haar nie, bly net strak voor hom na die plaaitjie en staar.

“Al my vriende is dood,” gaan sy aan. “Almal wat ek uitgenooi het. Ek’t vandag kom baai sê…”

Die meisie rem haar rolstoel se wiele vas, plaas haar hande aan weerskante van die pilaar, wat haar omtrent by die bors pas, en begin stadig en wankelrig opstaan. Haar een been gee mee en sy verloor haar balans. Wil net-net val, maar Shaun vang haar blitsvinnig en help haar terug in haar stoel in.

“Dankie,” sê sy skaam, en kyk dan op.

Vir die tweede keer in sy lewe voel dit vir Shaun of die lewe uit hom uitgesuig word. Daai bekende potblou ogies kyk nou op na hom asof hulle nog nooit weg was nie. 

“Michelle, dis jy!” roep hy.

“Shaun, o Shaun! Ek’t so na jou gesoek!” snik Michelle.

Shaun val op sy knee voor haar neer en druk haar klein lyfie styf teen syne vas. “My engel, die lewe was hel. Ek’t ook na jou gesoek! Elke dag. Maande lank! En nou is jy hier, jy is terug!”

“Bly by my,” fluister sy saggies in sy oor, en weer, soos daardie middag ‘n jaar terug, vat hy haar gesiggie in sy groot hande, lig haar kennetjie dan op, en soen haar saggies…

***

Epiloog

 

Mike staan met sy vrou en ses-maande oue babatjie na die trou uitnodiging en kyk.

“Nou toe nou, wat nog meer. Ou Shaun gaan trou! Hoe sê hulle? ‘Another one bites the dust’ ” en sy vroutjie klap hom liefs op die bors.

 

Michelle en Fancy het aanhou hard werk, en presies ‘n jaar en half na die tragiese middag in Kerkstraat, stap sy op kansel toe, na haar brandweerman en liefde toe.Image

Advertisements

From → Uncategorized

Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: