Skip to content

Tiener Liefde

March 29, 2014

Liezl is dom. Nee regtig, sy’s die domste girl in die skool. Maar nie net is sy dom nie, sy is donners mooi ook, so flippen mooi, dat elke matriek laaitie haar op ‘n date wil vat. Stupid of te not. Sy’t lang blonde hare en potblou oë. Hoërskool Kleinparadys se eie Barbie.
Maar liezl stel net in een ou belang. Die wilde spanner-swaaier van Springs, Karel Koekemoer, wat elke naweek getrou vir haar kom kuier…mèt of sònder haar Pa se toestemming. Haar Pa, Stefaans, is anyway ‘n backyard mechanic, so die twee het nogal baie om oor te gesels. Karel ry ‘n 2003 shocking pink speedbike, ‘n Ninja, en mens kan hom al van vêr af hoor aankom (die ding kort bietjie olie). Dan weet die hele buurt, ja, ou Spanner is weer hier. O ja, miskien moet ek ook net noem dat Karel bietjie hakkel. Stefaans het al sy dae met sy skoonseun. Mens het soms ‘n Nazi “decoder” nodig om sy gesprekke te ontsyfer. Arme ou.

Liezl se ma het haar ordentlik grootgemaak. Al van kleins af geleer om mooi make-up op te sit. “Die Engelse frase ‘less is more’, is sommer ‘n kak storie my kind, dit geld nie vir ons Brakpanners nie,” het sy altyd gesê. Punt is, jy loop vandat die son opkom, tot sonsondergang met soveel krullers as wat jou hare kan vat, rond. Genade, dit het gelyk of die kleuterskool haar gepaint het, so vol make-up was sy.
Maar anyway, so sou sy dan klein Liezl se haartjies indraai. Ai, wat ‘n patetiese prentjie. ‘n Sigaret wat skeef uit die kant van haar mond hang, en naels so lank, jy’t ‘n grinder nodig om hulle kort te sny.
Nou ja, dit was grootword vir Liezl Visagie. Lang naels, kort rokkies, baie make-up.

Hoe sy dit reggekry het, sal g’n mens weet nie, maar eventually beland Liezl toe in matriek. Hoek or by crook. Dit was seker haar kort rompies en lang blonde hare wat die manlike onderwysers verlei het. Of miskien het die onderwyseresse haar jammer gekry omdat sy nie kon naaldwerk doen in Huishoudkunde nie. Either way, die hoof het haar uit die skool gesoek. En almal het dit geweet, behalwe sy.
Hulle sou wel ‘n plan maak, het die onnies altyd in die personneelkamer vir Liezl bespreek. Êrens sou hulle wèl vir haar punte uitkrap.

Einde van die jaar laat mnr Blesbok Bezuidenhout hulle weet, dat die skool geen vreemdelinge by daai jaar se matriek-afskeid gaan duld nie. Die vorige jaar was ‘n groot vokop toe die saal aan die brand geslaan het. Die wat nie ‘n partner het nie, moet maar alleen gaan. Hy blaas die fluitjie en al die matrieks skarrel om by hulle onderskeie partners uit te kom. Almal, behalwe Liezl en Blikkies Botha, het ‘n partner en die twee staan toe skaam en alleen daar in die vierkant. Liezl wat met haar toon in die grond speel, en Blikkies met sy brilletjies wat sy te-groot-broek nog hoër as sy naeltjie optrek.
Arme Blikkies besef toe dat dit seker up to him is om Liezl na die matriekafskeid toe uit te vra en stap skaam nader.

“Liezl, sal jy my date wees volgende maand?”
“Natuurlik Blikkies,” mompel sy terug. “Solank jy net nie aan my gat vat nie, ek het ‘n ou.”
Blikkies word bloedrooi. Shame, in kontras met Liezl, was hy nogal slim. Noem hom sommer die school-nerd. Vrek lelik, maar flippen slim. Hey, mens kan seker nie alles in die lewe hê nie.

Die aand van die matriek-afskeid bring Blikkies se pa hom in hulle ou geroeste kombi na Liezel se huis toe om fotos te neem. Die jaard het nie veel van ‘n view nie. Met al die enjins, karparte en ou wrakstukke wat rondlê, maar nie te min kry die cheap fotograaf dit reg om ‘n paar ordentlike kiekies by die piesang boom te neem.
Natuurlik was Karel en sy pienk bike ook daar. Hy’t vies eenkant teen sy bike gestaan en kyk hoe ‘n ander ou sy girl om die lyf vat vir fotos.
“Hey, Brilletjies, ek moer jou as jy my girl vry, het jy my gehoor?” Arme Blikkies kon net verskrik knik, skouertjies hoog opgetrek.
Fotos is klaar geneem, die ‘ek-moer-jou’ speech klaar gelewer, en die twee matrieks vertrek weer in die geel kombi oppad skoolsaal toe.

Dit was eintlik nogal ‘n aangename aand. Hulle het hotdogs vir hoofgereg gekry, en jellie en custard vir peoding. Te lekker man. Maar die hoogtepunt natuurlik, was die laaste dans, om tien-uur. Die skool kon die DJ net tot sò laat bekostig.
Blikkies het Liezl gevra om te dans en daar gaan hulle. Ek dink die song was nog Shania Twain se “From This Moment”. Te romantic nê!
Blikkies het nog nooit so ‘n lekker aand saam met ‘n girl gehad nie, en vir eens in haar lewe kon Liezl voel hoe dit voel om op ‘n date te wees waar die ou nie net die heeltyd na haar boobs gekyk het nie. Sy en Blikkies het eintlik lekker gesels. Sy’t hom vertel van haar liefde vir kuns, maar dat haar ouers te arm was om haar vir kunsklasse te stuur. Hy aan die ander kant, het haar vertel van sy belangstelling in die sterre en hemelruimte.

Maar soos alle goeie dinge, moes die aand ook tot ‘n einde kom. Blikkies het sy pa op sy ou Nokia 3310 gebel en gesê hy kan hulle maar kom haal.
Buite die saal moes hulle nog ‘n halfuur vir sy pa wag en sit toe sommer daar op die gras en gesels.
Of dit die aanloklike lig van die maan was, of Liezl se mooi rooi lippies, weet Blikkies nie, maar voor hy hom kon kry, soen hulle. So asof dit die natuurlikste ding op aarde was. Liezl het eerste weggetrek en Blikkies saggies weer op die wang gesoen. “Ek het ‘n ou Blikkies.”
“Ek weet Liezl. Ek is jammer.”
Hulle hoor die ou kombi sukkel-sukkel om die draai kom en staan op om hulle boude af te skud. Liezl kon Blikkies nie in die oë kyk nie, en hy ook nie vir haar nie.
Die geel kombi stop in een groot rook-bol voor Liezl se huis en Blikkies help haar uit.
“Dankie vir ‘n lekker aand Liezl,” sê hy sag en kyk hoe sy deur die hekkie loop.
“Mooi kind daai,” sê blikkies se pa.
“Ja, ek weet pa. Kom ons gaan huistoe.”
Met ‘n vaart en nog drie rookbolle, vertrek hulle weg. Liezl kyk nie eenkeer om nie, maar toe sy uiteindelik wel opkyk, sien sy Spanner op die stoep sit.
“Wat maak jy hier in die donker Karel?” vra sy.
“Ek’t net gewag dat ou Brilletjies jou veilig aflaai, dan sou ek ry. Ek en jou pa het sommer ‘n paar doppe ook gekap. Hy’t so halfuur terug gaan uit-pass.”
“O…ok. Dankie Karel.” En met dit gee sy hom ‘n halwe piksoen op die wang, stap in die huis in en hoor hoe karel op sy motorfiets wegjaag, terug Springs toe. Maar daai aand kan Liezl nie slaap nie. Sy lê die hele tyd wakker en dink hoe lekker sy en Blikkies gelag het, sy ferm lippe op hare, en hoe maklik sy oor haar drome met hom kon gesels. Uiteindelik raak sy huilend aan die slaap, met geen benul wat die dag van more vir haar sou bring nie.

Die volgende dag maak Liezl se boetie haar dou voor dag wakker. “Hey slet, kom kyk hier! Hier is ‘n boks op die stoep met jou naam op!”
Liezl staan vaak en halfhartig uit die bed uit op en skoffel in haar fluffy pantoffels voordeur toe.
Sowaar! Daar staan ‘n yslike boks met haar naam in swart koki-pen geskryf. Sy maak dit versigtig oop en weet eers nie of sy droom, en of dit ‘n grap is nie. Maar dan kry sy die briefie wat langsaan sy oortjie uitsteek:

“Liezl, jy en jou drome is meer werd as goud. Moenie jou talente prysgee nie…Ek het die ander aand baie geniet, dankie dat jy my weer soos ‘n mens laat voel het. Liefde, BB xxx”

Sy vou die handdoek oop en kry allerlei botteltjies, buisies, kwassies en kunsboekies in die groot boks. Nou kan sy haar trane nie meer keer nie. Sy wèèt nou dat sy die liefde van haar lewe gevind het. Net een probleem: Spanner gaan ‘n korinêr skiet!

Posted from WordPress for BlackBerry.

Advertisements

From → Uncategorized

Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: