Skip to content

Generaal Se Vrou – Fort Colt

April 13, 2014

Beyer Coetzee en sy vrou Margaret, was die toonbeeld van ‘n gelukkige getroude paartjie en die bewondering van al hulle vriende en familie. Beyer het sy basis met ‘n ystervuis regeer en Margaret was ‘n uitmuntende huisvrou wat haar goed van haar taak gekwyt het.
Die egpaar het in ‘n dubbelverdieping huis aan die bo-punt van Fort Colt se heuwel gebly, vanwaar Beyer die hele basis onder sig kon hê, en was dit vir Margaret lekker om saans na die huise se liggies te sit en kyk terwyl hulle elk ‘n skemerkelie geniet het. Na al die jare was dit vir almal so duidelik soos daglig dat dìe twee nog baie gelukig was. Hy was agt-en-veertig jaar oud, lank, bruin, kort, netjiese geskeerde hare en sterk, swaar gebou. Marge, in teenstelling, was kort en fyngebou, kort swart haartjies en groen sielvolle oë. Sy het haar vier-en-veertig jare baie goed gedra.
Beyer en Marge se kinders, negentien-jarige tweeling, Jaco en Johan, het pas met universiteit begin. Jaco gaan Argitektuur swot en Johan Regte. Altwee was baie slim kinders, nes hulle ma, ‘n gekwalifiseerde verpleegkundige.
Tog was Beyer ietwat ontsteld toe hulle nie ook die Weermag of Vloot rigting gekies het nie, nes hy self, hulle oupa en oupa-grootjie het.
Met die twee seuns uit die huis uit, was Marge se daaglikse lewe eweskielik baie stiller. Weg was die dae van rugby-oefeninge, laat-aand partytjies, eksamen-bekommernis, guitar lesse en eindelose meisies. Sy’t haarself nou probeer besig hou met die basis se Dames Oggende, tee-partytjies saam met ander majore en generale se vroue en haar liefdadigheids projek, Shine For Simbamba.
Sy was wel gekwalifiseerd, maar het nooit gaan praktiseer nie. Beyer wou haar by die huis hê en het altyd goed vir haar gesorg. Wanneer hy kon, en tuis was, op sy hande gedra. Marge se eie pa was ‘n groot-kop op een van die vloot basise in die Kaap en as enigste kind, het sy al haar ouers en grootouers se besighede geërf.

Dit is een oggend na nog ‘n tee partytjie, dat Marge in die supermark voel of sy agtervolg word. Sy bly oor haar skouer kyk, maar sien niks. Kyk op na die sekuriteits-speeltjie in die hoeke van die winkel, maar ook niks.
“Nee, jy’s sommer simpel ou Marge. Heeltemal te veel tyd om te dink noudat die seuns hulle nes verlaat het.” Sy skud haar kop en doen verder inkopies.
By die teller pak sy al haar goedjies netjies op die vervoerband, meestal koekbak en bestandele vir Beyer se gunstelling disse. Weer voel iets nie reg nie, maar vrouemense is mos maar geneig om so hiper-sensitief te raak oor goed. Sesde sintuig-sindroom noem die mans dit.
Terwyl sy uitpak stop daar ‘n man met sy trollie langs haar. Sy kyk op om te glimlag, maar kan nie sy gesig sien nie. Dìe is agter een van daardie hoodies wat haar seuns so van hou, verskuil. Hy lyk glad nie verdag nie, maar eerder tipies jongmens.
Marge pak verder haar trollie uit, en nes sy die koekmeel wil aanskyf, en Hoodie sy bottel Coke neersit, raak die twee se hande per ongeluk aan mekaar. ‘n Elektries skokgolf skiet deur Marge. Die man ruk vinnig sy hand weg, en bly afkyk.
“Hallo, ek’s Marge. Is jy nuut hier op Fort Colt?” Die man knik sy kop.
“Wel, aangename kennis.” Marge bewe eintlik, al klink sy koel en kalm.
Die teller lui die laaste goed en Marge betaal met haar kaartjie. Dan sien sy iets wat haar jare terug die verlede in flits, en die hare rys op haar nek: ‘n klein tatoeër merk op die man se regter pols.
Marge wèèt nou wie die man is. Hy sien haar wye oë op sy pols en wys vir haar met sy wysvinger om te “shhhht”. Marge knik, glimlag vir die teller, vat haar pakkies en begin uitloop kar toe. Sy was skaars by die winkel se glydeure uit, of Hoodie is weer langs haar, druk ‘n opgevrommelde klein papiertjie in haar hand, en is dan weg. Alles ‘n blitsvinnige aksie.
Marge weet nie wat om te dink nie. Dis vir haar baie eienaardig en staar seker vir tien-minute aanhoudend na die pappiertjie, tot die karwag haar kom vra of hy kan help.
“Het jy hom gesien?” vra sy bewerig.
“Wie mevrou?” vra Karwag beleefd terug.
“Toemaar, ek’t my seker verbeel.”
Sy stap nou haastig kar toe en Karwag help haar om die paar pakkies in die luukse BMW se kattebak te laai. ‘n Glimlag en knik en karwag is ook weg. Arme man, hy werk ook al jare by die supermark.
“Ongelooflik,” dink sy aan die gebeure terwyl sy haar kop agteroor teen die koprus laat sak.
Dan onthou sy die notatjie en gulsig word die opgevrommelde bondeltjie gelees. Seker drie keer oor. Sy verstaan nie. Dit is ‘n adres van ‘n koffie winkel op die buurt-dorp. Wat beteken dit? Marge wens Beyer was by die huis, maar hy was tans vir ‘n maand opgeroep Pretoria toe, en moes saam met vyf ander generale ‘n amptelike besoek aan die generaal van die Zimbabwiese Weermag doen. Sy was nog altyd ‘n sterk, onafhanklike vrou, maar so iets maak haar bang.
Moet sy gaan?
Volgens die nota moet sy die volgende dag tien-uur daar wees.
Marge bêre die nota in haar handsak, sit haar sitplekgordel aan en ry huistoe.
Daai aand rol sy die heeltyd rond. Sy voel onveilig ten spyte van die wagte om hulle huis, drie Rottweilers en die nuutste sekuriteitstelsel. Daai onaangename gevoel dat iets of iemand haar dophou, wil nie weggaan nie.
Uiteindelik raak sy drie-uur die oggend aan die slaap, maar staan nietemin later die oggende met ‘n besliste besluit in haar hart op.
Sy gaan gaan.
Sy ken tog die man en weet hy sal, sover sy die jare kan terugonthou, haar nie leed aandoen nie.
Marge weet dis een helse groot risiko wat sy vat, om te gaan, maar ook om vir niemand te sê waarhèèn sy ry nie.
Sy trek haarself netjies aan en storm by die voordeur uit.

***
Kobus wag saam met die ander mans in die swart kombi voor die koffie winkel. Hy was nie eers seker of Marge sou opdaag nie, maar dit was ‘n kans wat hulle moes vat. Hulle kon haar nie op die basis gryp nie, en moes toe ‘n plan beraam om haar van die basis àf te kry.
Hy kan dit nie glo nie, na al die jare se geskuil, agtervolg, spioeneer en beskerming …gaan hy haar uiteindelik weer van aangesig tot aangesig sien.
Hulle wag vir twee-ure lank, en twaalf-uur begin die sweet op sy bo-lip uitslaan. Almal kyk hom skeef en vies aan. Dit was mos sy idee om mevrou Coetzee van die basis af te lok. Vir haar eie veiligheid, en vir die sukses van hulle plan, het hy hulle oortuig.
Die sewe mans sit nog so rukkie en wag en is dit dan Kobus wat eerste die BMW, wat hy al so goed ken, om die draai sien kom. Sy hart begin onstuimig klop en twyfeling maal in sy kop rond. Wat as iets verkeerd gaan?
Hy kan haar nie verloor nie…

Marge stop haar kar netjies voor die koffiewinkel, sien die swart kombi so entjie vorentoe, maar dink niks daarvan nie.
Binne die leë koffie winkel wag daar klaar drie swartgekleed en gemaskerde mans. Elkeen skuil agter ‘n spyskaart en wag dat Marge moet binnekom. Kobus-hulle het vooraf met die eienaar, wat kop-in-een-mus met hulle was, gereel dat hy daardie spesifieke oggend die koffie winkel leeg hou. Juis sodat daar geen getuienisse kon wees nie.
Cafè Carte se klokkie lui toe die deur oopgaan, en ‘n kort, beeldskone en amper middeljarige vroutjie stap in. Sy stap verby die drie mans se tafel en die geklak-klak van haar hakskoene laat hulle glimlag. Uiteindelik is sy hier.
Marge gaan sit by ‘n tafel in die vêr hoek van die winkel, sit haar handsak langs haar neer en kyk die spyskaart op en af. Dit is doodstil en die eienaar hou homself besig by die koffie-masjien. Tog kom sy nie agter dat die koffiewinkel eintlik leeg is nie.
‘n Skadu val oor haar spyskaart en toe sy opkyk, staan daar drie yslike groot mans in swart klere voor haar. Sy wil opspring, maar een druk haar liggies terug.
“Sit mevrou, jy is veilig.”
Marge weet nie hoekom nie, maar iets binne haar sê sy kan hulle maar vertrou, en gaan sit weer.
“Wie is julle?” vra sy sag, kyk om haar rond in die koffiewinkel, en kom toe agter dat hulle alleen is.
“Wat gaan aan? Ek wil nòù weet,” beveel sy.
Die drie mans gaan sit saam met haar. Een langs haar, en twee voor haar. Een van die mans voor haar haal sy masker af en antwoord: “Hy gaan nou hier wees mevrou Coetzee, dan sal hy als verduidelik.”
Sy begin nog te vra van wie en wat hulle praat, toe lui die klokkie weer en die deur gaan oop. Nog ses ander mans stap binne, en agter hulle ‘n swart-krulkop man.
Marge kyk verby die ander ses en stiptelik na hom.
Toe hy sy kop optel, en hulle oë mekaar ontmoet, voel dit of die aarde haar kan insluk. Dit voel of sy in ‘n woeste storm is, met donderweer wat orals om haar slaan.
“Patrick,” fluister sy, “Dit ìs jy…”

***
Lees gerus volgende keer om uit te vind hoekom Patrick en sy manne Marge wou ontvoer, wie Patrick nou eintlik is, en hoekom Marge so emosioneel geraak het toe sy hom sien.

Posted from WordPress for BlackBerry.

Advertisements

From → Uncategorized

Leave a Comment

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: