Skip to content

Die Tjellis – Deel Een van Twee

March 27, 2014

Die tjello voel vandag koud tussen jou bene. So asof dit ‘n aanduiding is dat iets nie pluis is nie. Of miskien is jy sommer net simpel besluit jy en skud jou kop om duideliker te kan dink.
“Look what the cat just dragged in”, fluister Minuette, die engelse eerste-viool, vir jou.
“Ja ek sien”, fluister jy terug oor jou skouer.
Daar hang ‘n onheilspellende stilte toe die reus van ‘n man vanuit onder die verhoog uit sy verskyning maak.
“Waar’s Peter?” wonder almal oor die dirigent wat die orkes gewoonlik lei.
Nie dat die meisies omgee oor die onverwagse verandering nie. Die spierpaleis wat nou voor julle staan, is terdeë ‘n sexier beeld van ‘n man as die van Peter, die vyf-en-sestig-jarige weduwee. Mens kan die man deur ‘n naald trek, let jy op oor sy swart aandpak en netjiese blink swart skoene.
“Nou ja goed,” bulder die swartkop, hande militêr-styl agter die rug. “Laat ek myself gou voorstel. Ek is Johan de Kock, nuwe dirigent van die Johannesburgse Royal Jeug Orkes. Peter is onverwags in die hospitaal opgeneem en sy kondisie is krities. Hy sal nie weer dirigeer nie. Net ‘n paar reëls. Jou instrument is jou baba. Pas hom op. Hou hom gestem. Hou hom blink en hou hom afgestof. Wees een maal laat en jy speel nooit weer in my orkes nie. Ek verwag dat elkeen sy kant bring en ten minste ses-ure per dag oefen. Geen verskonings. Opvoering-datums sal later aan julle deurgegee word maar verwag dat ons Europa gaan toer. Wees voorbereid. Die wat nie daarvan hou nie, kom se my nou.
Hey, het jy gehoor wat ek gesê het jonge dame?”
Jy skrik jou boeglam. Jissie maar die man is kwaai, jy’t skaars ‘n sekonde weggekyk toe ‘n mot in die lig jou oog vang.
“Jammer Johan,” stotter jy bloedrooi in die gesig, die tjello nog meer koud tussen jou jellie-bene.
“Ek verkies mnr de Kock, dankie,” antwoord hy sarkasties terug en ‘n paar van die manlike bass-spelers lag saam.
“Reg, ek gaan vandag hoor wat julle het om te bied, en gaan daarna dan ‘n paar verskywings maak, sou dit nodig wees. Kry asb die Dvorak Tjello Konsert se bladmusiek reg.”
Johan trek sy baadjie uit, rol sy moue op, kry sy stokkie en toe almal bedaar het en hulle blaaie oop het, waai hy sy arms. Die spiere bult behoorlik soos hy die stokkie heen en weer swaai.
Julle oefen die hele Saterdag deur, tot laat die aand en kwart-voor-twaalf is jou bene stokstyf en seer, jou arm lam, hy wil nie die strykstok verder vashou nie. Johan laat weet dat hy nou genoeg gehoor het en verwag almal die volgende dag, ja Sondag nogal, terug in die saal. Die wat nie daar kan wees nie is sumier geskraap. Woede kook in jou op soos borreltjies swaelsuur. Wie de he’ll dink hy is hy? Maar jy kan nie nou bekostig om winty te raak nie, jy’t hard ge-oefen om te kom tot waar jy is en ander sou hulle linker groot tone verkoop het om ook hier te kon wees. Met daardie haat-en-wraak gedagte lê jy vir Tjellie (jou ma se troetelnaam vir jou tjello) in haar kis neer, gooi haar oor jou skouer en stap saam met die ander die verhoog af maar onthou toe dat jou kar sleutels nog onder die stoel lê waar jy gesit het. Minuette wys dat sy jou buite kry en stap aan. Die trappe word sommer twee-twee betreë om tot op die verhoog te kom maar jy was so ingedagte oor die aand se gebeure, dat jy nie die moeite gedoen het om op te kyk nie, tot jy in ou suurknol vashardloop.
“Vervlaks, jammer Jo…um, jammer mnr De Kock.”
“Wat maak jy nog hier juffrou?” wil hy ongeduldig weet.
“Ek’t my karsleutels onder my stoel vergeet mnr. Ek wil dit net gou kry, dan is ek weg.”
“Wat’s jou naam?”
“Chantelle, meneer,” antwoord jy saggies.
“Nou ja toe-toe-toe, ek is haastig. Maak gou, die saal moet gesluit word” bulder hy weer. Hoekom voel dit of hy alewig skree? Jy’s glad nie gewoond daaraan om so hard mee gepraat te word nie.
“Ja mnr” en jaag die trappe verder op, gryp jou sleutels en skuur weer verskrik teen die muur verby hom, te bang hy sê weer iets vieslik. Twee yskoue sjokelade oë hou jou van agteraf dop en jy voel hoe hul jou rug deurboor.

Buite wag Minuette en ‘n paar ander violiste vir jou. Julle het besluit om sommer na “band practice”, soos Minuette dit in haar mooi suiwer Engels noem, by die padkafee iets te gaan eet. Almal joke oor ou Generaal de Kock, maar jy is stil. Diep binne-in jou voel dit of daar iets meer omtrent die man is, maar jy kan net nie jou vinger daarop plaas nie.
Ag wat, genoeg daaroor ge-stress. Jou koue vingers gryp die stuurwiel vas en julle laat waai padkafee toe.

Vier weke voor dit:

Johan sit langs die hospitaalbed, doodmoeg. Oom Peter is nou al twee dae in ‘n koma nadat hy ‘n onverwagse hartaanval gehad het, en met geen ander familie nie, het al die reëlings, banksake ensovoorts, op Johan se skouers gerus. Toe Peter uiteindelik bykom, het hy Johan se groot, sterk hand bewerig in sy verswakte een gevat.
“My seun, jou pa en ma sou so trots gewees het op jou. Ek is. Ek wil hê jy moet die orkes verder dirigeer, net jy kan. Wees ferm, maar regverdig. Ek ken daai jongmense goed. Elkeen van hulle. Almal het potensiaal en met die regte leier, kan hulle die beste jeug-orkes word wat die wêreld nog ooit gesien het. Die Wêreld Jeugorkes Kampioenskappe is oor ses maande in London…julle sal gereed wees.
So hou oom Peter aan met gesels, so asof hy bang is hy kry nie weer die kans om met Johan te praat nie. Johan kry skaars ‘n woord in. Hy het al baie gedirigeer, maar nog nooit op so groot skaal nie.
“En Johan, jy is nou al agt-en-twintig. Jy kan regtig nou maar begin vrou vat hoor, ek soek ‘n paar tjokkertjies voor ek eendag doodgaan. Ek hoor die Eerste Tjellis is nogal ‘n catch” knik hy vir Johan oog.
“Ag Oom Peter, laat staan tog nou maar daai idee en fokus jy net op gesond word, ok?”
Maar oom Peter het nooit gesond geword nie en is ‘n paar dae daarna aan ‘n tweede hartaanval dood.
“Dis hoekom ek nie weer ‘n vrou soek nie,” dink Johan by sy oom se graf ‘n week later.
“Want almal waarvoor ek omgee, word van my af weggevat.”

Nou sit Johan in sy kar voor die saal na ‘n lang grusame oefening op ‘n Saterdagaand en wonder of hy die regte ding doen. Is hy nie te streng nie? Ja, sy oom was reg, hulle het talent, maar kort nog baie werk. Veral daai parmantige eerste tjellis. Genade die girl irriteer hom uit sy sokkies uit, maar hy moet erken, sy is goed.

***
Sondag breek aan en almal arriveer stiptelik by die saal soos afgespreek. Johan kondig die nuwe posisies aan en jy wat Chantelle is, is verstom om te hoor dat jy die solo-tjellis vir die tjello opvoering gaan wees.
“Um mnr, jis, ek weet nou nie so mooi nie…” begin jy huiwerig maar die Generaal onderbreek jou.
“Wat verstaan jy nie mejuffrou? As jy dit nie like nie, daar’s die deur.”
Jy bly net stil en gaan sit weer. “Flippen poepol,” dink jy en Minuette sien hoe jy besig is om jou te vererg en wys met vingergebaar vir jou om te “chill”.
Weer oefen julle tot laat die aand en dit is vir jou maklik om verlore te raak in die mooi musiek van die liefdes verhaal. Almal voel jou passie aan en klap toe sommer hande toe jy klaar is. Almal behalwe ou suurknol generaal de Kock.
Ag watokal, jy’t nie sy goedkeuring nodig nie. Jy speel vir die liefde van die saak, dit is al. Later daai aand pak jy weer saam met die res op en onthou gelukkig die keer jou sleutels. Jy is die laaste een wat by die verhoogtrappe wil afgaan toe sy donderweer-stem jou stop.
“Chantelle…” begin hy.
Jy draai skuins om, kyk hom strak in die oë, maar sit nie jou tjello neer nie en sê ook nie ‘n woord nie.
“Um…goed gedoen. Dis al wat ek wil sê.”
“Poepol kan skaars ‘n ordentlike kompliment gee,” dink jy weer geïrriteerd, draai net om stap verder af om Minuette buite te kry.

***
Johan is verstom, en verbaas. Dit was die mooiste wat hy iemand al ooit hoor tjello speel het. Met elke strykbeweging van Chantelle se stok, het hy al hoe meer meegevoer geraak. Nie net in haar musiek nie, maar in haar. Hy’t fynere detail begin opmerk. Haar mooi, klein en fyn handjies wat die stok sterk hanteer het. Die pragtige kort naeltjies. Die groen ogies wat onder ‘n ligte frons op die bladmusiek voor haar gekonsentreer het, en vir ‘n oomblik toegemaak het toe sy die einde speel…heeltemal een met haar tjello. Haar rooi hare het in ‘n ligte vlegsel oor haar skouer gehang. Maar dit is die rooi tuit-lippies wat hom die meeste vasgevang het. Soenbare lippies…
“Nee man Johan,” tugtig hy homself. “Onthou jou belofte.”
Hy pak sy bladmusiek op en loop ook uit, sluit die deure agter hom toe en stap die koue winter nag in, kar toe. Met elke tree op die gevriesde sypaadjie flits Chantelle se strykbewegings voor hom, en Johan besef meteens dat hy besig is om hard vir haar te val. Vraag is nou net, wat gaan hy daaromtrent doen?
“Ja oom Peter, jy was nog altyd reg, nê?” dink hy en klim met ‘n smile in sy fancy sportmotortjie in…

From → Uncategorized

Leave a Comment

Leave a comment